Hierdie ontwikkeling is geleë op die grond wat in die 18de eeu as die plaas Plattekloof bekend gestaan het.
De Plattekloof word deur Arun Lifestyle ontwikkel, gerusteun deur Arun Holdings en Old Mutual en sal vroeg in Mei amptelik bekend gestel word, lui ’n verklaring. Volgens die ontwikkelaars kan kopers ’n rustige en gerieflike aftree-lewenstyl op die landgoed te wagte wees, met toegang tot van die beste gesondheidsorgdienste, ’n verskeidenheid geriewe en heeltydse veiligheid. Die kompleks word begrens deur die Baronetcy-landgoed met sy moderne huise en die Tygerberg-natuurreservaat. Dié nuwe leefstyl-oord bied ook onverbeterlike uitsigte op Tafelberg, die Kaapse metropool sowel as Tafelbaai. Volgens Johan Laubscher van Arun Holdings is daar baie tyd bestee om dié landgoed goed te beplan en die nodige voorbereidingswerk te doen om slegs die beste aan inwoners te bied. Volgens hom is daar heelwat belangstelling van voornemende kopers en beleggers.
Die bouwerk het al ver gevorder. Volgens Laubscher sal daar ’n skouwoonstel wees om te besigtig. “Die uitstekende ligging, onoortreflike uitsig en beperkte beskikbaarheid van goeie aftree-eiendomme in die Wes-Kaap, maak van De Plattekloof ’n baie aantreklike geleendheid vir voornemende kopers en beleggers.”
WAT KAN JY VERWAG?
De Plattekloof bied drie soorte aftreewonings vir kopers en beleggers:
- 57 twee- en drieslaapkamerhuise waarin kopers onafhanklik kan woon, maar van die geriewe en dienste van dié aftreeoord kan geniet. Die huise word van die plan af verkoop en sal gehalte-afwerkings soos Smegtoebehore hê.
- 98 luukse tweeslaapkamerwoonstelle vir inwoners wat net die deur agter hulle wil toetrek wanneer hulle uitgaan. Die eerste woonstelkompleks sal as Lebenstijn bekend staan. Kopers sal uit ’n wye spektrum gesondheids-, spysenierings- en skoonmaakdienste kan kies om by hul leefstyl te pas. Fokus is deurgaans op
- 114 bystandseenhede in die hoofgebou, Tijgerzicht, vir afgetredenes wat nie meer alleen kan woon nie en bystand benodig. Hierdie 114 eenhede bestaan uit eenmanswooneenhede, een slaapkamer- en twee slaapkamerwooneenhede. Nooddienste en gesondheidsorg sal 24 uur per dag beskikbaar wees. Etes word voorsien, ’n skoonmaak- en wasgoeddiens is beskikbaar, en gesondheidsorg-personeellede besoek inwoners daagliks. Hier is ook ’n sorgsentrum vir verswaktes met 12 beddens. Medwell Suid-Afrika, ’n maatskappy wat in tuisverpleging spesialiseer, sal vir die primêre gesondheidsorgdienste in De Plattekloof verantwoordelik wees. “Soms het net een van ‘n egpaar versorging nodig. By De Plattekloof kan beide hul onafhanklikheid, in hulle eie huis behou danksy die uitstekende gesondheidsorg wat Medwell SA bied,” sê Laubscher. Volgens die ontwikkelaars sal De Plattekloof die beste opsies aan sy inwoners bied. Hulle kan sorgvry in ’n rustige en veilige omgewing woon en dis nie nodig om ver buite die grense van die landgoed wat geriewe soos hospitale, winkelsentrums, restaurante en ’n gymnasium insluit, te soek nie.
De Plattekloof word só ontwerp om aan inwoners maksimum geriewe te bied. Buiten ’n klubhuis en ’n restaurant sal ’n koffiekroeg, ’n kroeg, ’n biblioteek asook ’n haar- en ’n skoonheidsalon beskikbaar wees. Ettienne de Kock van Old Mutual sê: “Inwoners sal deurentyd die vlak van die dienste wat hulle benodig volgens hul behoeftes kan aanpas. Die landgoed het werklik alles en nog meer en is boonop naby ál die mediese geriewe in Panorama, asook winkelsentrums, ‘n gimnasium en belangrike toegangsroetes.”