Onverbeterlike uitsigte op Kaapstad, Tafelberg en Robbeneiland, sowel as toegang tot van die beste gesondheidsorgdienste, ’n verskeidenheid geriewe en heeltydse veiligheid.
Dít en nog meer is wat kopers kan verwag wat in die eksklusiewe leefstyllandgoed De Plattekloof belê. Dié landgoed vir mense van 50 jaar en ouer word teen die hange van die Tygerbergheuwels in Plattekloof ontwikkel, en is die naweek amptelik bekend gestel.
De Plattekloof word deur Arun Lifestyle ontwikkel, gerugsteun deur Arun Holdings en Old Mutual. Volgens Johan Laubscher van Arun Lifestyle is die landgoed só ingerig dat sy inwoners ’n luukse aftreelewenstyl kan geniet. Jy hoef hom egter nie te glo nie – kom kyk self, nooi Laubscher. “Ons beveel werklik aan dat mense die landgoed besoek, omdat geen beskrywing van die besonderse uitsigte of die omgewing dit tot sy volle reg sal laat kom nie. De Plattekloof bied net die beste en is vir mense wat die meeste genot uit hul aftrede wil put.”
DIT KAN JY VERWAG
Daar is drie soorte aftreewonings vir kopers en beleggers:
57 twee- en drieslaapkamerhuise waarin kopers onafhanklik kan woon, maar van die geriewe en dienste van die aftreeoord kan geniet. Die eerste 15 huise word nou van die plan af verkoop en sal gehalte-afwerkings soos Smeg-toebehore hê. Die groottes wissel tussen 129 m² en 169 m², en kopers sal met behulp van ’n verskeidenheid afwerkings die huis presies kan laat lyk soos hulle dit wil hê. ’n Netwerk van wandelpaaie en mooi tuine rond die rustige buurt af.
98 luukse tweeslaapkamerwoonstelle vir inwoners wat net die deur agter hulle wil toetrek wanneer hulle uitgaan. Die eerste twee woonstelkomplekse sal as Lebenstijn en Bloemendal bekend staan. Kopers sal uit ’n breë spektrum van gesondheids-, spysenierings- en skoonmaakdienste kan kies om by hul lewenstyl te pas. Al die woonstelle is groter as 70 m², en die fokus is deurgaans op gehalte-afwerking. Die woonstelle kry een parkeerruimte elk.
114 bystandseenhede in die hoofgebou, Tijgerzicht, vir afgetredenes wat nie meer alleen
kan woon nie. Hierdie eenhede bestaan uit onderskeidelik eenman- en eenslaapkamereenhede, sowel as eenhede met twee slaapkamers. Inwoners het toegang tot ’n heeltydse nooddiens. Hier is ook ’n sorgsentrum vir verswaktes met 12 beddens. Medwell Suid-Afrika, ’n maatskappy wat in tuisverpleging spesialiseer, sal vir die primêre gesondheidsorgdienste in De Plattekloof verantwoordelik wees. Inwoners sal ’n gesondheidsorg- opsie kan kies wat in hul behoeftes voorsien. Dit laat inwoners toe om so lank moontlik hul onafhanklikheid in hul eie huis te behou.
HOE VORDER DIE BOUWERK?
Volgens die ontwikkelaars het die bouwerk al ver gevorder. ’n Ten volle gemeubileerde skouwoonstel kan reeds op die landgoed besigtig word.
De Plattekloof se projekspan het ’n toegewyde omgewingskundige wat vir welige tuine en plantlewe op die landgoed sal sorg. Behalwe dat dit voëls en diere sal lok, kan inwoners middagstappies op die landgoed geniet.
Die Tygerberg-natuurreservaat is ’n klipgooi van die landgoed. Wat geriewe vir sport en ontspanning betref, hoef inwoners nie ver buite die grense van die
landgoed te gaan soek nie. Die geriewe op die landgoed sluit ’n restaurant, ’n kroeg, ’n koffiekroeg, ’n biblioteek, ’n haar-enskoonheidsalon en ’n klubhuis in.
Laasgenoemde sal onthaalgeriewe hê en ’n verskeidenheid aktiwiteite en uitstappies aanbied. Daar is ook goeie hospitale, restaurante, winkelsentrums en ’n gimnasium in die omgewing.